Leni Riefenstahl

Leni Riefenstahl
Foto van Leni Riefenstahl deur Alexander Binder in 1928.
Gebore
Helene Bertha Amalie Riefenstahl

22 Augustus 1902
Sterf8 September 2003 (op 101)
BeroepRolprentmaker, aktrise, fotograaf, danseres, draaiboekskryfster
Bekend virTriomf van die Wil (dokumentêre rolprent)
EggenootPeter Jacob (1944–46)
(volgens een ponieblad) Horst Kettner (2003: Haar afsterwe)
Webwerfleni-riefenstahl.de

Helene Bertha Amalie “Leni” Riefenstahl (* 22 Augustus 1902, Berlyn, Duitse Keiserryk – † 8 September 2003, Pöcking, Beiere, Duitsland) was ’n Duitse rolprentregisseur- en vervaardiger, aktrise en danseres wat algemeen bekend is vir haar estetika en innovasies as ’n rolprentmaker. Haar bekendste rolprent was Triumph des Willens (Triomf van die wil), ’n dokumentêre prent wat sy by die 1934-Rykspartydag van Adolf Hitler se Nasionaal-Sosialistiese Duitse Arbeidersparty (NSDAP) gemaak het. Riefenstahl se prominensie in die Derde Ryk, tesame met haar persoonlike verbinding met Hitler, het haar rolprentloopbaan vernietig nadat Duitsland verslaan is in die Tweede Wêreldoorlog. Sy is gearresteer, maar sonder enige aanklag weer vrygelaat.[1]

Triomf van die wil het aan Riefenstahl onmiddellike en blywende internasionale roem en berugtheid besorg. Hoewel sy die regisseur van slegs agt rolprente was, waarvan net twee aansienlike dekking buite Duitsland geniet het, was Riefenstahl vir die duur van haar lewe bekend. Die propagandawaarde van haar rolprente wat gedurende die 1930’s gemaak is, word deur die meeste hedendaagse kommentators verafsku, maar baie kritici meen haar estetika was uitstaande.[2][3][4][5] The Economist het geskryf dat Triomf van die wil haar reputasie as die “grootste vroulike rolprentmaker van die 20ste eeu bevestig het”.[6]

In die 1970’s het Riefenstahl haar stilfotografie van die Noebastamme in Soedan gepubliseer in verskeie boeke soos Die Nuba (Die Noeba). Sy was aktief tot haar afsterwe op 101-jarige leeftyd en het die seerolprent Impressionen unter Wasser (Onderwaterindrukke) in 2002 vrygestel.

Met toenemende ouderdom het Riefenstahl haar aktiewe betrokkenheid in die Nasionaal-Sosialistiese mediabedryf steeds meer verdring en daarop aangedring dat haar werk as onpolitiese kuns beskou moes word. Dat haar werke inderdaad in haar eie land asook in die buiteland winsgewend bemark kon word, was onder meer aan bekende persoonlikhede uit die Amerikaanse en Britse vermaaklikheidsbedrywe te danke. Tonele uit Riefenstahl se rolprente het inspirasies gelewer vir George Lucas se Star Wars; Mick en Bianca Jagger het portretfoto's deur haar laat neem, Helmut Newton het haar as fotomotief ontdek, en Quentin Tarantino en Francis Ford Coppola was vol lof oor Riefenstahl se rolprent-estetiek.[7]

Na haar dood het die Associated Press Riefenstahl beskryf as ’n “aangeskrewe pionier van film- en fotografiese tegnieke”.[8] Die Berlynse koerant Der Tagesspiegel het geskryf dat “Leni Riefenstahl nuwe grond in die rolprentbedryf gebreek het”.[9] Die BBC het gesê dat haar dokumentêre werke “bestempel is as baanbrekerswerk in die rolprentwese; sy het baanbrekende tegnieke met hyskrane, spore en veelvuldige gelyklopende kameras ontwikkel”.[10]

  1. (de) Leni Riefenstahl. (1993). Die mag van beeld: Leni Riefenstahl [Dokumentêre rolprent]. Duitsland, Afrika: Ray Müller.
  2. Koster, Ron (2004). "Leni Riefenstahl se rolprentdebuut" (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 28 Augustus 2008. Besoek op 6 Januarie 2008.
  3. Maslin, Janet (13 Maart 1994). "Wat presies het Leni Riefenstahl se lens gesien?" (in Engels). New York Times. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 14 Februarie 2009. Besoek op 6 Januarie 2008.
  4. "Leni-galery" (in Engels). Psymon. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 1 April 2016. Besoek op 6 Januarie 2008.
  5. Carl Rollyson (7 Maart 2007). "Leni Riefenstahl voor die gereg" (in Engels). The New York Sun. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 16 Mei 2020. Besoek op 2 November 2008.
  6. (en) "Leni Riefenstahl: geskiedenis in die hand". The Economist. September 2003. pp. XX.
  7. www.hsozkult.de: Kunst und Ästhetik im Werk Leni Riefenstahls. Besoek op 28 Januarie 2018
  8. (en) "Hitler se rolprentmaker Leni Riefenstahl sterf op 101". Bulldog News. 9 September 2003. Besoek op 5 Januarie 2008.
  9. "Leni Riefenstahl die duiwel se diva" (in Engels). bbc.com. 10 September 2003. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 9 Oktober 2019. Besoek op 5 Januarie 2008.
  10. "Rolprentmaker Leni Riefenstahl sterf" (in Engels). bbc.com. 9 September 2003. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 30 Oktober 2019. Besoek op 4 Januarie 2008.

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search